Ons kerklidmate moes onlangs die uitdagings wat met die ontvangs en verwelkoming van nuwe lidmate uit ander kulture gepaard gaan, die hoof bied. Die aanpassings ten opsigte van kultuur en taal het ongemaklike situasies meegebring.

Misverstande en verskille kom oral voor waar daar mense is. Die kerk is geen uitsondering nie. As ons ons verskille nie op ’n gesonde wyse hanteer nie, kan dit tot verdeeldheid lei.

In Jerusalem was die kerk ook besig om te groei toe ’n dispuut, wat kulturele gewoontes bedreig het, ontstaan het. Griekssprekende Jode (Helleniste) het gekla dat hulle weduwees deur Hebreeussprekendes in hulle daaglikse versorging afgeskeep word (vs. 1). Die apostels het aanbeveel: “soek sewe mans onder julle uit wat daarvoor bekend is dat hulle vol van die Heilige Gees is en wysheid het” (vs. 3). Die sewe wat toe gekies is, het almal Griekse name gehad (vs. 5) en was lede van die groep wat verwaarloos was. Hulle het die probleem die beste verstaan. Die apostels het vir hulle gebid en die kerk het floreer (vv. 6-7).

Groei bring uitdagings, veral omdat dit interaksies tussen tradisionele groepe meebring. Maar soos ons die leiding van die Heilige Gees soek sal ons skeppende oplossings vir daardie uitdagings vind wat selfs geleenthede tot verdere groei sal bevorder.