Mense wat in hulle leeftyd ’n buitengewone vlak van belangrikheid of reputasie behaal, word dikwels ’n “legende in hul eie tyd” genoem. ’n Goeie vriend en professionele bofbalspeler sê egter dat hy al baie sportmanne en -vroue ontmoet het wat slegs ’n “legende in hulle eie oë” was. Hoogmoed en trots is soms geneig om die beeld wat ons van  onsself sien en vorm, te verdraai en te verwring, terwyl nederigheid ’n meer realistiese perspektief bied.

Die skrywer van Spreuke sê: “Op hoogmoed volg ondergang, op selfverheffing volg die val” (vs.18). Om jouself dus in jou spieël van eie-belangrikheid te bekyk kan tot ’n verwronge beeld lei. Selfverheffing lei  beslis tot ‘n val.

Die teengif vir arrogansie is ware nederigheid wat van God kom. “Liewer eenvoud saam met nederiges as om saam met hoogmoediges van roof te lewe” (vs. 19).

Jesus het aan Sy dissilpels gesê: “Elkeen wat in julle kring groot wil word, moet julle dienaar wees; en elkeen onder julle wat die eerste wil wees, moet julle slaaf wees” (Mat.20:26-28).

Daar is niks mee verkeerd om verering vir prestasies en sukses te ontvang nie. Die uitdaging is egter om gefokus te bly op die Een wat ons oproep om Hom te volg as Hy sê: “…want Ek is sagmoedig en nederig van hart en julle sal rus kry vir julle gemoed” (Spr. 11:29).