Mens sien dikwels videos van onwaarskynlike diere-vriendskappe op die Internet. So is daar byvoorbeeld die videos van ’n vark en ’n klein hondjie, ’n takbok en ’n kat, ’n orangoetang met tierwelpies.

Sulke ongewone vriendskappe herinner my aan die Tuin van Eden waarin Adam en Eva in harmonie met mekaar, die natuur en met God geleef het. Maar toe word hierdie idilliese toneel deur Adam en Eva se sonde onderbreek (Gen 3:21-23). Van toe af volg gedurige worsteling en konflik, nie net in die menslike verhoudings nie, maar ook in die verhouding tussen die mens en die skepping.

Tog verseker die profeet Jesaja ons dat daar ’n dag sal kom dat wolwe en skape saam sal bly, dat luiperds tussen bokkies sal lê, en dat kalwers, leeus en voerbeeste bymekaar sal lê (Jes 11:6). Baie vertolk hierdie toekomstige dag as die dag van Jesus se wederkoms. Van daardie dag af sal daar nie meer skeiding wees nie, “… smart en pyn sal daar nie meer wees nie. Die dinge van vroeër het verbygegaan” (Op. 21:4). Op daardie nuwe aarde sal die skepping tot sy aanvanklike harmonie herstel word en mense uit elke elke stam, nasie, volk en taal sal verenig in hulle aanbidding van God (Op.7:9; 22:1-5).

Tot dan kan God ons help om gebroke verhoudings te herstel en nuwe onwaarskynlike vriendskappe te smee.