Ek en my gesin is verlede Desember berge toe. Ons het ons lewe lank in ’n tropiese klimaatstreek gewoon, dus het ons vir die eerste keer sneeu in sy volle skoonheid gesien. Terwyl ons ons verlustig het in die wit mantel wat oor die velde lê, het my man uit Jesaja aangehaal: “Al was julle skarlakenrooi van sonde, julle sal wit word soos sneeu … ” (1:18).

Ons driejarige dogter wou eers weet wat “skarlakenrooi” beteken, en toe: “Is die kleur rooi sleg?” Sy weet dat God sonde haat, maar in hierdie vers gaan dit nie oor kleure nie. Die profeet het die helderrooi kleursel wat van die eiers van ’n klein insek verkry word, beskryf. Klere is twee maal in dié helderrooi kleursel gedoop sodat dit kleurvas kon bly. Geen reën of was kon dit uitkry nie. Nes met sonde: geen menslike poging kan dit wegneem nie. Dis in die hart gewortel.

Slegs God kan ons harte van sonde reinig. Ons het ons verwonder aan die onbesmette wit – iets wat nie moontlik is met ’n stuk lap wat skarlakenrooi gekleur is nie, ongeag hoeveel keer dit geskrop en gebleik word. Wanneer ons na Petrus luister: “ … [B]ekeer julle en kom tot inkeer. Dan sal God julle sondes uitwis” (Hand. 3:19), sal God ons vergewe en ons ’n nuwe lewe gee. Ons kan slegs deur Jesus se offer ontvang wat niemand anders vir ons kan gee nie – ’n rein hart!