Carissa het op 21 Augustus 2016 foto’s van ’n vernietigende vloed in Louisiana op sosiale media geplaas. Sy het die volgende oggend ’n nota van iemand wat om hulp smeek, daarby geplaas. Vyf ure later het sy en Bobby, haar man, ander uitgenooi om saam met hulle die reis van 1,610 kilometer af te lê en hulp te gaan verleen. Minder as 24 uur later was 13 persone op pad om ander wie se huise erg beskadig is, te gaan dien.

Wat motiveer ’n mens om alles net so te los, ’n reis van 17 ure aan te pak net om toerusting te skuif, slopingswerk te doen en hoop aan te wakker in ’n plek wat jy nog nooit tevore gesien het nie? Liefde!

Dink ’n bietjie na oor dié vers wat Carissa saam met haar pleidooi om hulp geplaas het: “Laat jou weë aan die Here oor en vertrou op Hom; Hy sal sorg” (Ps. 37:5). Dit is veral waar wanneer ons gehoor gee aan God se oproep om hulp te verleen. Die apostel Johannes het geskryf: “Wie … sy broer sien gebrek ly, maar geen gevoel vir hom het nie – hoe kan die liefde van God in hom wees?” (1 Joh. 3:17). Die taak lyk dalk ontsagwekkend, maar God belowe om ons te help wanneer ons “doen wat Hy goedvind” (vs. 22).

Wanneer nood opduik, kan ons God verheerlik deur ons gewilligheid om ’n “Ja!” van liefde aan te bied wanneer ons bewus word dat Hy ons vra om iets vir ander te doen.