Regina was op pad huis toe, moeg en moedeloos. Haar dag het afgeskop met slegte nuus van ’n vriendin en verder afwaarts gespiraal in vergaderings waar medewerkers geweier het om haar voorstelle te ondersteun. Terwyl sy met die Here praat, het sy besluit om die spanning eenkant toe te skuif en ’n ouer vriendin by ’n versorgingsoord met blomme te verras. Maria se dankbaarheid oor God se goedheid het Regina met moed gevul. “Ek het my eie bed en stoel, drie etes per dag en die hulp van verpleegsters. God stuur ook dikwels ’n kwikkie na my venster omdat Hy weet hoe lief ek vir hulle is en Hy my liefhet,” het Maria vertel.

Gesindheid. Perspektief. Die spreekwoord lui mos: “Die lewe bestaan uit 10 % van wat met ons gebeur, en 90 % van hoe ons daarop reageer.” Die mense aan wie Jakobus geskryf het, was verstrooi weens vervolging, en hy het hulle gevra om te let op hul perspektief oor swaarkry. Hy het hulle uitgedaag: “My broers, julle moet baie bly wees wanneer allerlei beproewings oor julle kom … ” (Jakobus 1:2).

Elkeen van ons is persoonlik op reis met God, waartydens ons leer om Hom te midde van moeilike omstandighede te vertrou. Die vreugdevolle perspektief waarvan Jakobus praat, is die vrug van ons waarneming dat God ons worsteling gebruik om ons tot volle geestelike rypheid te bring.