’n Paar winters gelede het my tuisdorp ’n ongewone lang aanslag van ysige temperature verduur voordat dit uiteindelik plek gemaak het vir die warmer weer van lente. Die termometer buite die huis het vir twee weke aaneen ver onder die vriespunt (-20 C; -5 F) gedaal.

Op ’n besonders yskoue oggend het die geluid van tjirpende voëls die stilte van die nag verbreek. Dosyne, indien nie honderde nie, het uit hul harte gesing. As ek nie van beter geweet het nie, sou ek kon dink dat die klein gevleueldes na hul Skepper uitgeroep het om warmer weer te stuur!

Voëlkundiges het te vertel dat die menige voëlgesange wat ons soggens gedurende die laatwinter hoor, van die mannetjies kom. Hul probeer om maats te lok en hul gebiede af te baken. Hul getjirp het my daaraan herinner dat God Sy skepping fyn ingestel het om lewe te onderhou en dit te laat floreer, want Hy is die God van lewe!

In ’n psalm van verwondering oor God se florerende aarde, skryf die psalmis: “Ek wil die Here loof!” (104:1). Dan skryf hy verder: “Die voëls maak hulle neste langs die water en kwetter tussen die takke” (vs. 12).

Van die singende en broeiende voëls tot “die see, groot en wyd, wat wemel van diere, klein en groot” (vs. 25), vind ons redes om die Skepper te loof vir die moeite wat Hy gedoen het sodat alles wat lewe, gedy.