Ek en my jongste dogter speel dikwels “Knyp” met mekaar. Wanneer sy die trappe klim, jaag ek haar en gee haar ’n ligte knypie. Volgens die reëls mag ek haar net knyp (liefdevol, natuurlik) wanneer sy op die trappe is. As sy bo staan, is sy veilig. Soms is sy nie lus om te speel nie. As ek haar dan jaag, sê sy streng: “Geen knyp nie!” Ek antwoord dan: “Geen knyp nie. Ek belowe.”
Dié belofte lyk maar gering. Wanneer ek egter doen wat ek belowe, leer my dogter iets omtrent my karakter. Sy ervaar my beginselvastheid. Sy kan my vertrou, want ek hou my woord. Dit vra ook nie veel van my om die belofte na te kom nie. Beloftes – of, laat ek liewer sê, dié wat ons gestand doen – is die kleefmiddel van verhoudings. Dit vorm die grondslag vir liefde en vertroue.
Ek reken dit is wat Petrus bedoel het toe hy geskryf het dat God se beloftes ons in staat stel om deel te kry aan die Goddelike natuur (2 Pet. 1:4). Wanneer ons God op Sy Woord neem, Sy uitsprake omtrent Homself en ons vertrou, ervaar ons Sy hartsgesindheid teenoor ons. Terwyl ons in Sy waarheid rus, bied dit Hom die geleentheid om Sy getrouheid te betoon. Ek is dankbaar vir die oorvloed van Sy beloftes in die Skrif – daardie konkrete waarhede dat daar “geen einde aan sy ontferming” is nie. “Dit is elke môre nuut” (Klaagl. 3:22-23).