Ek het trane weggeknip toe ek na my mediese rekening kyk. Met my man se skerp ingekorte salaris ná ’n lang tydperk van werkloosheid, sou dit jare se geringe maandelikse paaiemente neem om selfs net die helfte van die balans te probeer delg. Ek het gebid, die spreekkamer gebel, ons situasie verduidelik en ’n vergoedingsplan aangevra.

Ná ’n kort rukkie het die ontvangsdame my meegedeel dat die dokter ons rekening geskik het.

Ek het “Dankie” gesnik en God geloof. Ek wou die rekening bêre as ’n herinnering aan wat God gedoen het.

My dokter se keuse om my skuld af te skryf, het my herinner aan God se besluit om die onoorkomelike skuld van my sondes te vergewe. Die Bybel verseker ons dat God “[b]armhartig en genadig is … lankmoedig en vol liefde” (Ps. 103:8). “Hy handel met ons nie volgens ons sondes nie” (vs. 10). Hy verwyder ons sonde “[s]o ver as die ooste van die weste af is” (vs. 12) wanneer ons ons bekeer en Christus as ons Verlosser aanneem. Sy offer wis die skuld wat ons eers verskuldig was, uit. Geheel en al.

Ná vergifnis word ons nie gedefinieer deur of beperk volgens ons skuld van die verlede nie. As antwoord op die Here se oorvloedige geskenk kan ons Hom dank vir alles wat Hy gedoen het, Hom ons toegewyde aanbidding en dankbare liefde aanbied, vir Hom lewe en vir ander van Hom vertel.