Cleopatra, Galileo, Shakespeare, Elvis, Pelé. Dié persone is so bekend dat hulle slegs op ’n enkele naam geëien word. Op grond van wie hulle was en wat hulle gedoen het, het hulle prominent gebly in die geskiedenis. Tog is daar ’n ander naam wat ver bo hiérdie en elke ander naam uitstaan!

Voordat die Seun van God in hierdie wêreld gebore is, het die engel vir Maria en Josef beveel om Hom Jesus te noem, “want dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos” (Matt. 1:21), en Hy sal “die Seun van die Allerhoogste genoem word” (Luk. 1:32). Jesus het nie as ’n beroemde persoon gekom nie, maar as ’n dienskneg wat Homself verneder het en aan die kruis gesterf het sodat elkeen wat Hom ontvang, vergewe kan word en van die mag van die sonde bevry word.

Die apostel Paulus het geskryf: “Daarom het God Hom ook tot die hoogste eer verhef en Hom die Naam gegee wat bo elke naam is, sodat in die Naam van Jesus elkeen wat in die hemel en op die aarde en onder die aarde is, die knie sou buig, en elke tong sou erken: ‘Jesus Christus is Here!’ tot eer van God die Vader” (Fil. 2:9-11).

Ten tye van ons grootste vreugde en ons diepste nood, klou ons verbete aan die Naam Jesus. Hy sal ons nooit verlaat nie en in Sy liefde sal Hy ons nooit in die steek laat nie.