Die openingsplegtigheid tydens die
Olimpiese Spele in 2008 is met allerhande
woorde beskrywe, onder andere
“ongelooflik, asemrowend, buitensporig.”
Een kommentator het gesê: “Dit wys wat
gedoen kan word as ’n mens aan ’n kunstenaar
vrye teuels en volop fondse gee.”
Toe ek dit hoor, het ek dadelik gedink:
Dis presies wat God met die skepping
gedoen het. Hy het niks teruggehou nie,
maar alles gegee. Gevolglik is die heelal
ongelooflik mooi, uiters kompleks en in
alle opsigte buitensporig. Die Olimpiese
plegtigheid was volmaak; maar as net een
deelnemer besluit het om van die program
af te wyk, kon die hele seremonie daardeur
benadeel gewees het.
Dis presies wat net na die skepping
gebeur het. Anders as die persoon wat die
Olimpiese Spele hanteer het, het God aan
sy skepsels ’n vrye wil gegee, en sy
skepping is geskend deur Adam en Eva se
keuse om hulle eie pad te loop. In Jesaja se woorde: “Ons het
elkeen sy eie pad geloop” (Jes. 53:6).
God se oplossing vir ons eiegeregtigheid was ongelooflik: Hy,
die Kunstenaar, het self die prys betaal om dit wat ons vernietig
het, te herstel. Daar sal eendag ’n ander openingsplegtigheid wees
en dan sal almal in die hemel en op aarde voor die Here buig
(Filip. 2:10). Almal,van elke stam en taal wat God se plan aanvaar
het, sal Christus verheerlik in die volmaakte Nuwe Jerusalem
(Openb. 15:4).