As gevolg van ’n besering, ly ek aan kroniese pyn in my skouers en nek, en bo-rug. Gedurende die mees folterende en ontmoedigende oomblikke is dit nie altyd maklik om die Here te vertrou of te loof nie. Maar juis dan vertroos God se konstante teenwoordigheid my. Hy versterk en verseker my van Sy onveranderlike goedheid, onbeperkte mag en ondersteunende genade. En wanneer ek aan my Here wil twyfel, word ek bemoedig deur die vasberade geloof van Sadrag, Mesag en Abednego. Hulle het God aanbid en vertrou dat Hy by hulle was, al het hulle situasie hopeloos gelyk.

 

Toe koning Nebukadnesar gedreig het om hulle in die brandende vuuroond te gooi as hulle nie sy goue standbeeld aanbid nie (Dan. 3:13-15), het hierdie drie manne moedige geloof geopenbaar. Hulle het nooit getwyfel dat die Here hulle aanbidding waardig was nie (vs. 17), “selfs as” Hy hulle nie red uit hulle penarie nie (vs. 18). En God het hulle nie versaak nie; Hy het by hulle aangesluit en hulle beskerm in die vuuroond (vv. 24-25)

 

God versaak ons ook nie. Hy bly by ons deur beproewinge wat so vernietigend soos Nebukadnesar se vuuroond voel. Hoewel ons lyding nie ophou aan hierdie kant van die ewigheid nie, is en sal God altyd magtig, geloofwaardig en goed wees. Ons kan vertrou op Sy deurlopende en liefdevolle teenwoordigheid.