Wanneer mens ’n lugreis onderneem, lewer ’n lugrederywerknemer veiligheidsinstruksies. Hy of sy verduidelik wat om te doen wanneer die kajuitdruk afneem. Passasiers word vertel dat suurstofmaskers uit die kompartement bokant hulle koppe sal verskyn. Hulle moet eers hulle eie aansit voor hulle ander passasiers bystaan. Hoekom? Want voor jy iemand anders kan help, moet jy self eers fisiek gereed wees.

Toe Paulus aan Timoteus geskryf het, het hy klem gelê op die belangrikheid om sy eie geestelike gesondheid in stand te hou voor hy ander kan bystaan en dien. Hy herinner Timoteus aan sy baie pligte as ’n leraar. Daar was valse leringe om mee rekening te hou (1 Tim. 4:1-5) en verkeerde doktrines om reg te stel (vv. 6-8). Maar om sy pligte goed uit te voer, was dit die belangrikste om goed te let op “[sy] lewe en [sy] leer” en te volhard daarin (vs. 16). Hy moes eerstens sorg vir sy eie verhouding met die Here voor hy ander kon bedien.

Wat Paulus vir Timoteus geleer het, geld ook vir ons. Elke dag kom ons mense teë wat nie die Here ken nie. Wanneer ons ons geestelike suurstof uit die Woord van die Here aanvul, bid en die Heilige Gees vrye gang in ons lewe verleen, hou ons ons verhouding met God reg. Dan sal ons geestelik paraat wees om ander te help.