Toe my suster Maysel klein was, sou sy ’n bekende liedjie op haar manier sing: “Jesus min Maysel, salig lot. Ek weet dit uit die Woord van God!” Dit het my grensloos geïrriteer. As een van haar ouer, “wyser” susters, het ek geweet die woorde moet eintlik “min my” en nie “Maysel” wees nie. Tog het sy volhard om dit op haar eie manier te sing.

Nou dink ek sy het dit die heeltyd reg gehad. Die Bybel sê inderdaad vir Maysel, en ons almal, dat Jesus ons liefhet. Oor en oor lees ons van hierdie waarheid. Neem byvoorbeeld die geskrifte van die apostel Johannes, die “dissipel vir wie Jesus baie lief was” (Joh. 21:7, 20). Hy vertel ons van God se liefde in een van die bekendste verse in die Bybel, naamlik: Johannes 3:16: “God het die wêreld so liefgehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat dié wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê.”

Johannes bevestig daardie boodskap van liefde in 1 Johannes 4:10: “Werklike liefde is dít: nie die liefde wat ons vir God het nie, maar die liefde wat Hy aan ons bewys het deur sy Seun te stuur as versoening vir ons sondes.” Net soos Johannes geweet het Jesus is lief vir hom, kan ons ook daardie selfde versekering hê: Jesus is inderdaad lief vir ons. Die Bybel leer ons so.