My vriendin het my een Sondag na ’n erediens by haar kerk genooi. Sy het gehoor dat ek na ’n kerk soek om gereeld by te woon. Die voorsangers het die gemeente in een van my gunsteling liedjies gelei en dit het my uit volle bors laat sing.

Na die lied het my vriendin se man na my gedraai en gesê dat ek baie hard gesing het. Dit was nie as komplement bedoel nie! Ek het myself maar daarna in toom gehou en seker gemaak dat ek sagter sing as die ander rondom my.

Maar toe hoor ek die dame langs my. Dit was duidelik dat sy in diepe aanbidding en sonder die minste selfbewustheid gesing het. Haar houding het my aan Dawid se entoesiastiese en spontane wyse van aanbidding en lofprysing herinner. Trouens, Dawid stel in Psalm 98 voor dat die hele aarde tot eer van die Here moet juig (vs. 4).

Vers 1 van Psalm 98 verduidelik hoekom ons tot eer van die Here moet sing: “want Hy het magtige dade gedoen.” Dan beskryf Dawid in die volgende verse hierdie groot dade: God se getrouheid en regverdigheid teenoor alle nasies, Sy genade, Sy redding. Ons harte word met lof gevul as ons nadink oor wie God werklik is en wat Hy vir ons gedoen het.

Watter wonderlike dinge het God al in jou lewe gedoen? Om dankie te sê bied die perfekte geleentheid om God se wonderlike werke te oordink. Hef op jou stem en sing.