“Maak skoon julle lessenaars en kry ’n stuk papier en potlood.” Toe ek nog ’n student was, het hierdie gewraakte woorde “toetstyd” aangekondig.

In Markus 4 lees ons dat Jesus se dag, wat gewoonlik met lering op die strand begin het (vs. 1), met ’n tyd van geloofstoetsing afgesluit is (vs. 35). Die boot wat as ’n platform vir Sy lering gebruik was, was gewoonlik gebruik om Jesus en Sy klompie volgelinge na die oorkant van die see te neem. Tydens hierdie spesifieke reis het Jesus in die agterstewe van die boot gelê en slaap toe daar skielik ’n groot storm op die see losgebars het. Die papnat dissipels het Jesus wakker gemaak: “Meneer gee U dan nie om dat ons vergaan nie?” (vs. 38) Toe gebeur dit. Die Een wat die skare vroeër die dag vermaan het om te “Luister!” (vs. 3) het die wind met ’n eenvoudige maar kragtige bevel aangespreek – “Hou op! Bedaar!” (vs. 39).

Die wind het bedaar en die verwondering van die dissipels was duidelik. “Wie kan Hy tog wees?” (vs. 41) Alhoewel dit ’n baie goeie vraag was, sou dit hulle nog ’n hele tydjie neem om tot die besef te kom dat Jesus die Seun van God is. Opregte, eerlike en openhartige vrae en ondervindinge lei menigeen vandag nog tot dieselfde gevolgtrekking: Hy is meer as net ’n leermeester. Hy is die God wat aanbid moet word.