Rut kan nie haar verhaal vertel sonder om te huil nie. In haar middel tagtigs en onbekwaam om oral rond te beweeg, blyk sy nie ’n sentrale figuur in ons kerklewe te wees nie. Sy is afhanklik van ander om haar iewers heen te vervoer en omdat sy alleen bly, strek haar invloedsfeer ook nie ver nie.

Haar verhaal van redding – wat sy dikwels vertel – laat Rut uitstaan as ’n merkwaardige voorbeeld van God se genade. In haar dertigerjare het ’n vriendin haar na ’n diens uitgenooi. “As ek geweet het ek gaan na ’n predikant luister, sou ek nie gegaan het nie,” het sy vertel. Sy het reeds ’n “godsdiens” gehad wat haar geensins bevoordeel het nie. Tog het sy gegaan, en die goeie nuus omtrent Jesus gehoor.

Nou, meer as 50 jaar later, huil Rut van vreugde wanneer sy vertel hoedat Jesus haar lewe verander het. Sy het daardie aand ’n kind van God geword. Haar verhaal raak nooit oud nie.

Ons verhaal verskil dalk van Rut s’n, maar wat wel belangrik is, is dat ons die eerste tree gee om ons geloof in Jesus en in Sy dood en opstanding te plaas. “As jy met jou mond bely dat Jesus die Here is, en met jou hart glo dat God Hom uit die dood opgewek het, sal jy gered word,” het die apostel Paulus geskryf (Rom. 10:9).

Rut het dit gedoen. Jy kan ook. Jesus verlos, verander en skenk ons nuwe lewe.