Kenners is dit eens dat ’n verstommende hoeveelheid tyd daagliks vermors raak deur onderbrekings. ’n Telefoonoproep of ’n onverwagse besoek kan ons, of ons tuis of by die werk is, maklik van wat ons as ons hoofdoel beskou, laat ontspoor.

Nie almal van ons hou van onderbrekings in ons daaglikse lewe nie, veral nie wanneer dit tot ongerief of ’n verandering van ons planne lei nie. Jesus het egter dié dinge wat na onderbrekings gelyk het, op ’n heel ander manier hanteer. Ons lees keer op keer in die Evangelies dat Jesus dít waarmee Hy besig was, laat staan het sodat Hy iemand in nood kon help.

Terwyl Jesus op pad was na Jerusalem waar Hy gekruisig sou word, het ’n blinde man langs die pad hard uitgeroep: “Jesus, Seun van Dawid, ontferm U oor my!” (Luk. 18:38-39). Sommige in die skare het hom beveel om stil te bly, maar hy het bly uitroep na Jesus. Hy is na Jesus toe gebring, waarop Jesus hom gevra het: “Wat wil jy hê moet Ek vir jou doen?” “Here, dat ek kan sien,” antwoord die man. Jesus sê toe: “Goed, jy kan sien! Jou geloof het jou gered” (vv. 40-42).

Wanneer iemand wat ons hulp waarlik nodig het ons planne omvergooi, kan ons die Here om wysheid vra sodat ons met medelye kan uitreik. Wat ons as ’n onderbreking beskou, kan ’n Goddelike afspraak wees wat die Here vir daardie dag bestem het.