Betty se dogter het ná ’n oorsese reis siek tuis gekom. Toe haar pyn ondraaglik word, het Betty en haar man haar na die noodeenheid geneem. Die dokters en verpleegsters het aan die werk gespring en ná ’n paar uur het een van die verpleegsters vir Betty kom sê: “Jul dogter gaan gesond word. Ons sal mooi na haar kyk en haar versorg totdat sy weer gesond is.” Betty het onmiddellik bewus geword van die vrede en liefde wat oor haar vloei. Sy het besef dat terwyl sy angstig oor haar dogter waak, die Here die volmaakte ouer is wat Sy kinders versorg en ons tydens moeilike tye vertroos.

In die boek Deuteronomium herinner die Here Sy volk hoe Hy hulle tydens hul reis deur die woestyn versorg het soos ’n liefdevolle ouer wat oor sy kinders waak. Hy het hulle nooit alleen gelaat nie. Hy was soos ’n arend wat “sy vlerke ... oopsprei” en “sy kuikens op sy vlerke dra” (Deut. 32:11). Hy wou hê hulle moes onthou dat hoewel hulle in die woestyn ’n getwis en swaarkry beleef het, Hy hulle nie in die steek gelaat het nie.

Ook ons ondervind allerlei uitdagings, maar vind troos en skep moed in die seker wete dat God ons nooit alleen sal laat nie. Wanneer dit vir ons voel asof ons val, sal die Here soos ’n arend Sy vlerke oopsprei (v. 11) om ons te vang  en ons Sy vrede gee.