Marc onthou sy pa het die gesin byeengeroep. Hul motor was onklaar, en spoedig sou daar nie meer geld wees nie. Marc se pa het stil geraak, gebid, en toe sy gesin gevra om op God se antwoord te wag.

Marc vertel God se hulp het op verrassende maniere gerealiseer. ’n Vriend het die motor herstel; onverwagte tjeks is ontvang en kos is afgelewer. Dit was maklik om God te loof, al was hul dankbaarheid tydens ’n krisis gesmee.

Psalm 57 bied lank reeds ryke stof vir aanbiddingsliedere. Wanneer Dawid uitroep: “Toon u grootheid, o God, hoog bo die hemel,” kan ons ons indink hoedat hy opkyk na die verruklike Midde-Oosterse naghemel, of in die tabernakel aanbid. Inderwaarheid het hy vir sy lewe gevrees en in ’n grot geskuil: “Ek is hier tussen leeus, tussen mense wat my wil verskeur. Hulle tande is spiese en pyle, hulle tonge is skerp swaarde” (v. 5).

Dawid se lof het tydens ’n krisis gestalte gekry. Al was hy in ’n hoek vasgekeer vanweë sy vyande wat hom dood wou hê, kon Dawid steeds hierdie verstommende woorde skryf: “... U liefde reik tot in die hemel, u trou tot in die wolke! Ek wil ’n lied sing ...” (vv. 11, 8).

Ons kan midde-in enige soort krisis tot God nader om hulp. Daarna kan ons Hom loof terwyl ons op die uitkoms wag en vertrou dat Hy op onmeetlik kreatiewe maniere vir ons sal sorg.