Daar is min dinge wat so mooi op die oor val as wanneer iemand wat jou liefhet vir jou bid. Wanneer ’n mens ’n vriend hoor wat met deernis en Godgegewe insig vir jou bid, beleef jy iets van die hemel wat aan die aarde raak.

Tog kan ons gebede, danksy God se goedheid jeens ons, ook aan die hemel raak. Soms worstel ons tydens gebed met woorde en gevoelens van ontoereikendheid. Jesus het egter Sy volgelinge geleer dat ons “altyd moet aanhou bid sonder om moedeloos te word” (Luk. 18:1). Een van die redes is omdat God se Woord ons leer dat Jesus “aan die regterhand van God (sit),” en “Hy pleit vir ons” (Rom. 8:34).

Ons is nooit alleen wanneer ons bid nie, want Jesus is besig om vir ons te bid. Hy hoor ons terwyl ons bid, en praat namens ons met die Vader. Ons hoef nie bekommerd te wees of ons woorde mooi of reg is nie, want niemand verstaan ons beter as Jesus nie. Hy staan ons op elke moontlike manier by. Hy bring ons behoeftes voor God. Hy weet ook wanneer die antwoorde waarvoor ons vra, nie vir ons goed sal wees nie. Hy hanteer elke versoek en saak met volmaakte wysheid en liefde.

Jesus is die volmaakte gebedsgenoot – die vriend wat met onmeetlike teerheid vir ons intree. Sy gebede vir ons is onbeskryflik kosbaar, en behoort ons aan te moedig om altyd met dankbare harte te bid.