John Babler is die kapelaan vir die polisie- en brandweerdepartemente in sy gemeenskap. Tydens ’n sabbatsverlof van 22 weke het hy die polisie se akademie-opleiding bygewoon sodat hy ​​die situasie wat wetstoepassers in die gesig staar, beter kon verstaan. Deur tyd met die kadette te spandeer en van die uitdagings in die beroep te leer, het hy ’n gevoel van nederigheid en empatie ervaar. Hy hoop dat as hy nou berading doen met polisiebeamptes wat emosioneel sukkel, sal hy meer doeltreffend wees.

Ons weet dat God ​​die situasies wat ons in die gesig staar verstaan, want Hy het ons gemaak en Hy sien alles wat met ons gebeur. Ons weet ook dat Hy verstaan, want Hy het na die aarde gekom en die lewe as mens ervaar. Jesus Christus het as Persoon “mens geword en onder ons kom woon” (Joh. 1:14).

Jesus se aardse lewe het vele uitdagings ingehou. Hy het die versengende hitte van die son, hongerte, en die onsekerheid van haweloosheid ervaar. Emosioneel het Hy die spanning van verskille, die smeuling van verraad, en die voortdurende bedreiging van geweld ervaar.

Jesus het die vreugde van vriendskap en familie, asook die ergste probleme wat ons hier op aarde in die gesig staar, ervaar. Hy bied hoop. Hy is die Wonderbare Raadsman wat met insig en sorg geduldig na ons probleme luister (Jes. 9:5). Hy is die Een wat kan sê: “Ek is daardeur. Ek verstaan.”