Skrywer en predikant Erwin Lutzer vertel ’n verhaal van die TV-gasheer Art Linkletter en ’n seuntjie wat ’n prentjie van God teken. Geamuseerd sê Linkletter: “Jy kan dit nie doen nie, want niemand weet hoe God lyk nie.”

“Hulle sal as ek hiermee klaar is!” het die seuntjie geantwoord.

Ons wonder dalk: Wie is God? Is Hy gaaf? Is Hy liefdevol? Gee Hy om? Die eenvoudige antwoord op hierdie vrae is Jesus se reaksie op Filippus se versoek: “Here, wys vir ons die Vader.” Jesus het geantwoord: “Ek is al so lank by julle, en ken jy My nie, Filippus? Wie My sien, sien die Vader” (Johannes 14:8-9).

As jy al ooit begeer het om God te sien, kyk na Jesus. “Die Seun is die beeld van God, van God wat self nie gesien kan word nie,” sê Paulus (Kol. 1:15). Lees deur die vier Evangelies in die Nuwe Testament: Matteus, Markus, Lukas en Johannes. Dink diep oor wat Jesus gedoen en gesê het. “Teken” jou eie geestesbeeld van God terwyl jy lees. Hoe verder jy lees, sal jy baie meer te wete kom van hoe Hy is.

’n Vriend van my het my eendag vertel dat die enigste God waarin hy kon glo, is die een wat hy in Jesus gesien het. As jy mooi kyk, dink ek, sal jy saamstem. Namate jy meer oor Hom lees, sal jou hart van vreugde bons, want al het jy dit dalk nie geweet nie, is Jesus die God na Wie jy jou lewe lank op soek is.