My ma en haar susters is by ’n toenemend bedreigde kunsvorm betrokke, naamlik om briewe te skryf. Elke week skryf hulle met so ’n konsekwentheid persoonlike woorde aan mekaar dat een posbode bekommerd word as hy nie iets het om af te lewer nie! Hul briewe is vol vreugdes asook die hartseer van geliefdes.

Ek is lief om oor die gebruik van dié vroue te besin. Dit help my om Paulus se woorde aan Jesus se volgelinge meer te waardeer: “Julle [is] ’n brief van Christus [wat] nie met ink nie, maar met die Gees van die lewende God [geskrywe is]” (2 Kor. 3:3). In reaksie op vals leraars wat sy boodskap wou diskrediteer (lees 2 Kor. 11), het Paulus die kerk in Korinte aangemoedig om die ware en lewende God – soos hy hulle onderrig het – te volg. Sodoende beskryf hy die gelowiges as Christus se brief en hul veranderde lewens as ’n kragtiger getuienis van die Gees, wat ook in Paulus se bediening werksaam was, as wat enige geskrewe brief kon wees.

Hoe wonderlik dat God se Gees in ons ’n verhaal van genade en verlossing skryf! Want so betekenisvol as wat geskrewe woorde kan wees, is ons lewens die beste getuies van die waarheid van die evangelie. Ons deernis, diens, dankbaarheid en vreugde spreek boekdele. Deur ons woorde en dade maak die Here Sy liefde bekend. Hoe lyk die boodskap wat jy vandag uitstuur?