Elkeen van ons is ’n bloudruk uit God se hand. Daar bestaan nie iets soos ’n selfgemaakte man of vrou nie. Geeneen het hom- of haarself talentvol, afgerond of intelligent gemaak nie. God het elkeen van ons self geskep. Hy het aan ons gedink en ons vanweë Sy onuitspreeklike liefde gevorm.

God het jou liggaam, verstand en siel gemaak. Hy het ook nog nie Sy werk met jou voltooi nie – Hy is steeds besig. Sy opregte doel met ons is om ons geestelik volwasse te maak: “God, wat die goeie werk in julle begin het, (sal) dit end-uit voer en dit ... voleindig op die dag wanneer Christus Jesus kom” (Fil. 1:6). God is besig om jou dapperder, sterker, reiner, meer vreedsaam, liefdevol en minder selfsugtig te maak – die soort mens wat jy dalk nog altyd wou gewees het!

“Die Here ... aan sy liefde is daar geen einde nie, sy trou duur van geslag tot geslag” (Ps. 100:5). God het ons van ewigheid af liefgehad – en “vir ewig” strek na weerskante toe. Hy sal aan jou getrou bly tot die einde toe.

Aan jou is ’n liefde gegee wat vir altyd duur, en ’n God wat jou nooit in die steek sal laat nie. Dit is die perfekte rede om vol blydskap te wees en voor Hom te kom met gejubel (v. 2).

En as jy nie suiwer kan sing nie, kan jy van pure blydskap die Here se heilige Naam aanroep.