Daar was komplikasies met Kelly se swangerskap en die dokters was bekommerd. Tydens die lang geboorteproses het hulle op ’n keisersnee besluit. Haar pyn was egter gou vergete toe Kelly haar pasgebore seun vashou. Vreugde het die ontsteltenis oorwin.

Die Bybel bevestig hierdie waarheid: “’n Vrou kry swaar wanneer haar tyd gekom het ... Maar wanneer die kindjie gebore is, dink sy nie meer aan die pyn nie, so bly is sy dat daar ’n mens in die wêreld gekom het” (Joh. 16:21). Jesus het hierdie illustrasie gebruik om Sy dissipels te verseker dat hoewel hulle bedroef sou wees wanneer Hy binnekort weggaan, hulle smart in vreugde sou verander wanneer hulle Hom weer sien (vv. 20-22).

Jesus het na Sy dood, opstanding en wat daarna sou gebeur, verwys. Ná Sy opstanding was Jesus, tot Sy dissipels se vreugde, nog 40 dae by hulle en het Hy hulle onderrig voordat Hy in die hemel opgeneem is en hulle weer alleen was (Hand. 1:3). Tog het Jesus hulle nie aan hul lot oorgelaat nie. Die Heilige Gees sou hulle met vreugde vul (Joh. 16:7-15; Hand. 13:52).

Al het ons Jesus nog nie gesien nie, is ons as gelowiges verseker dat daardie dag sal aanbreek. Dan sal alle aardse sielesmart vergete wees. Intussen het die Here ons nie sonder blydskap gelaat nie – Hy het ons Sy Heilige Gees gegee (Rom. 15:13; 1 Pet. 1:8-9).