“My man is bevordering in ’n ander land aangebied, maar omdat ek te bang was om ons huis agter te laat, het hy die aanbod teësinnig van die hand gewys.” My vriendin het verduidelik hoe vrees vir so ’n groot verandering haar verhoed het om ’n nuwe avontuur te omarm, en dat sy tog soms wonder wat hulle deur nie te trek nie, misgeloop het.

Die Israeliete het toegelaat dat vrees hulle verlam toe hulle geroep is om hulle in ’n ryk en vrugbare “land wat oorloop van melk en heuning” (Eks. 33:3) te vestig. Hul angs is aangevuur deur die verslae van die sterk mense in die groot stede. Die meeste Israeliete het die oproep om die land binne te gaan, verwerp.

Josua en Kaleb het egter by hulle aangedring om die Here te vertrou: “Moenie vir hulle bang wees nie,” want “die Here is by ons” (Num. 14:9). Hoewel die mense van Kanaän oorweldigend voorgekom het, kon die Israeliete op die Here se teenwoordigheid vertrou. Â

My vriendin het nie soos die Israeliete ’n opdrag ontvang om na ’n ander land te trek nie, tog was sy spyt dat haar vrese haar van ’n geleentheid ontneem het. Hoe lyk dit in jou lewe? Klop ’n vreesaanjaende situasie aan jou deur? Indien wel, wees dan verseker dat die Here by jou is en jou sal lei. Sy liefde vir ons is nimmereindigend, daarom kan ons in die geloof vorentoe beweeg.