’n Australiese joernalis wat 400 dae lank in ’n Egiptiese tronk gevange gehou is, het met sy vrylating gemengde emosies gehad. Hy het erken dat hy verlig is, tog het hy sy vryheid aanvaar met ’n diepe besorgdheid oor die vriende wat hy agtergelaat het. Hy het gesê dat dit uitermate moeilik was om sy medeverslaggewers wat saam met hom gevange geneem en in tronk gestop is, te groet. Wie weet hoe lank hulle nog aangehou sou word?

By die gedagte dat hy vriende moes agterlaat, het Moses ook uitdrukking aan sy angstigheid gegee.  Sy broer, suster en die volk het die goue kalf aanbid terwyl hy God op Sinaiberg ontmoet het (Eks. 32:11-14); daarom het hy vir hulle ingetree en gepleit: “Vergewe tog hulle sonde. As dit nie kan nie, moet U my naam maar uitvee uit die boek wat U geskrywe het” (v. 32).

Eeue later het die apostel Paulus ’n soortgelyke kommer oor familie, vriende en die volk verwoord. In sy hartseer oor hul ongeloof in Jesus, het hy gesê hy sou sy eie verhouding met Christus prysgee as hy deur so ’n liefde sy broers en susters kon red (Rom. 9:3).

Ons sien dat Moses sowel as Paulus aan die hart van Christus uiting gegee het. Tog kon hulle daardie liefde slegs voel, en hulle kon die offer slegs aanbied. Jesus het dit egter vervul om vir altyd by ons te wees.