Ek onthou my pa se gesig. ’n Mens kon dit nie maklik lees nie. Hy was ’n sagte man, maar onversteurbaar en teruggetrokke. As kind het ek dikwels na ’n glimlag of ’n uitdrukking van liefde op sy gesig gesoek. Ons is ons gesig. ’n Frons, ’n nukkerige trek, ’n glimlag en skrefiesoë verraai hoe ons oor ander voel. Ons gesigte praat … vertel.

Asaf, die skrywer van Psalm 80, was ontsteld en wou die Here se gesig sien. Hy het vanaf sy uitkykpunt in Jerusalem noordwaarts gekyk en gesien hoe Juda se susterstaat – Israel – onder die gewig van die Assiriese Ryk ineenstort. Met haar bufferstaat uit die weg geruim, was Juda aan alle kante kwesbaar vir aanvalle – Assirië in die noorde, Egipte in die suide en die Arabiese volke in die ooste. Juda was in die minderheid en onopgewasse.

Asaf het sy vrese in ’n gebed wat hy drie maal  herhaal het, saamgevat: “Laat dit weer met ons goed gaan, o God, verskyn tog tot ons redding!” (80:3, 7, 9.) Oftewel: Laat ons tog U aangesig sien.

Dit is goed om weg te kyk van ons vrese en die aangesig van ons hemelse Vader te soek. Die beste manier waarop ons God se gesig kan sien, is deur na die kruis te kyk. Die kruis praat … vertel (Joh. 3:16).

Daarom moet jy weet: Wanneer jou Vader na jou kyk, het Hy ’n groot glimlag op Sy gesig. Jy is heeltemal veilig!