Ek het die afgelope lente besluit om die roosboom by ons agterdeur af te sny. In die drie jaar wat ons daar woon, het dit nie veel blomme gedra nie en sy lelike takke het wild gegroei.

Ek het egter besig geraak en my plan is vertraag. ’n Paar weke later het die roosboom bloeisels gedra soos nog nooit tevore nie. Honderde groot, wit, welriekende blomme het oor die agterdeur getuimel, na die werf toe uitgesprei en die grond met pragtige blomblare bestrooi.

Die herlewing van my roosboom herinner my aan Jesus se gelykenis van die vyeboom (Luk. 13:6-9). In Israel was dit die gebruik om ’n vyeboom drie jaar kans te gee om vrugte te dra. As hulle onvrugbaar gebly het, is hulle afgekap sodat die grond beter benut kon word. In Jesus se verhaal vra die tuinier die eienaar om ’n spesifieke boom ’n vierde jaar kans te gee om vrugte te dra. Gegewe die konteks (vv. 1:5), impliseer die gelykenis dat die Israeliete nie geleef het soos hulle moes nie en dat God hulle heel regverdig kon straf. Maar God is geduldig en bied hulle verdere tyd om hulle te bekeer, vergewe te word en te floreer.

God wil hê dat alle mense floreer en skenk ekstra tyd sodat dit moontlik is. Of ons nog op pad is na geloof en of ons vir ongelowige familielede en vriende bid, God se geduld bly goeie nuus vir almal van ons.