Op pad na die kruidenierswinkel het ’n vriendin ’n vrou langs die pad sien stap. Op die ingewing van die oomblik het sy net daar die motor omgeswaai en die dame ’n saamrygeleentheid aangebied. Sy is aan die hart gegryp toe die vrou haar vertel dat sy nie busgeld het nie en daarom die vele kilometers in die warm en bedompige weer moes stap. Nie net was sy besig om die lang pad huis toe af te lê nie; sy het daardie oggend reeds ’n klompie ure gestap om teen 04:00 by die werk te wees.
Deur vir die vrou ’n saamrygeleentheid aan te bied, het my vriendin Jakobus se opdrag dat Christene hul geloof deur hulle dade moet toon, in ’n hedendaagse situasie geïllustreer. “So gaan dit ook met die geloof: as dit nie tot dade oorgaan nie, is dit sonder meer dood” (Jak. 2:17). Hy wou hê dat die kerk die weeskinders en weduwees in hulle moeilike omstandighede bystaan (1:27), en dat hulle nie op leë woorde moes vertrou nie, maar hul geloof deur hulle dade van liefde bewys.
Ons is deur geloof gered, nie deur werke nie, tog leef ons ons geloof uit deur ander lief te hê en hulle in hul nood by te staan. Mag ons – soos my vriendin wat ’n saamrygeleentheid aan ’n moeë voetganger gebied het – ons oë oophou vir diegene wat saam met ons op die pad van die lewe is en ons hulp nodig het.