Met sy dood het die groot kunstenaar, Michelangelo, heelwat onvoltooide projekte agtergelaat. Vier van sy beeldhouwerke was egter nooit veronderstel om voltooi te word nie. Al het dit voorgekom asof die Bebaarde Slaaf, die Atlas-slaaf, die Ontwakende Slaaf en die Jong Slaaf nie klaar was nie, was hulle presies soos Michelangelo hulle wou gehad het. Die kunstenaar wou wys hoe dit voel om vir altyd in slawerny vasgevang te wees.

Eerder as om geboeide figure uit te beitel, het Michelangelo figure gemaak wat vasgevang is in die einste marmer waaruit hulle gebeitel is. Liggame beur uit die marmer, maar slaag nie volkome daarin nie. Spiere span, en tog kan die figure hulself nie bevry nie.

Ek het onmiddellike empatie met die slawe-beeldhouwerke. Hulle lot verskil nie juis van my worsteling met die sonde nie. Ek kan myself nie bevry nie. Nes die beeldhouwerke is ek vasgevang – “’n gevangene van die wet van die sonde wat in my … aan die werk is” (Rom. 7:23). Al probeer ek hoe hard, ek kan myself nie bevry nie. Maar, aan God al die dank! Ek en jy sal nie onvoltooide werke bly nie. Ons sal eers in die hemel volmaak wees. Intussen verwelkom ons die werk van die Heilige Gees. Hý verander ons. God belowe om die goeie werk wat Hy in ons begin het, te voltooi (Fil. 1:6).