’n Onbewoonde herehuis het voor die konvooi noodlenigingsvoertuie opgedoem – die burgemeester s’n. Sy mense het die basiese noodsaaklikhede kortgekom terwyl hy in weelde in ’n veraf stad gewoon het.

Sulke onregverdigheid maak ons kwaad. Ook God se profeet het kwaad geword. Toe Habakuk die buitensporige verdrukking sien, het hy gevra: “Hoe lank moet ek om hulp roep voordat U hoor, Here, moet ek by U bly kla oor geweld voordat U red?” (Hab. 1:2). God het dit raakgesien, daarom antwoord Hy: “Ellende wag vir hom wat hom verryk met goed wat nie syne is nie … Wat hom ten koste van ander wou verryk en daardeur ’n ramp oor sy familie gebring het” (vv. 6, 9). Die oordeel was aan die kom!

Ons verwelkom God se oordeel oor ander, maar daar is ’n kern in Habakuk wat ons laat nadink: “Die Here is in sy heilige tempel: almal op aarde moet in sy teenwoordigheid stil wees!” (v. 20). Almal op aarde. Die verdruktes én die verdrukkers. Soms is stilte die gepaste respons op God se skynbare swye!

Waarom stilte? Want ons vergeet ons eie geestelike armoede so gou. Stilte, in die teenwoordigheid van ’n heilige God, laat ons ons eie sondigheid raaksien.

Habakuk het geleer om God te vertrou – ons kan ook. Ons ken nie al Sy weë nie, maar ons weet dat Hy goed is. Niks is buite Sy beheer en tydsberekening nie.