’n Vriendin het vir my van haar eie erdewerk gepos. Sommige items – soos die koppie wat in ’n paar groot stukke gebreek het – is tydens die reis beskadig. Nadat my man die stukke aanmekaargelas het, het ek die pragtige geskonde koppie op ’n rak uitgestal.

Ek het – net soos daardie gelaste stuk erdewerk – ook littekens wat wys dat ek staande gebly het deur die moeilike tye waardeur God my gelei het. Daardie koppie van troos herinner my dat as ek getuig hoedat die Here in en deur my lewe gewerk het, ek ook ander tydens hulle lyding kan help.

Die apostel Paulus loof God, want “Hy is die Vader wat Hom ontferm en die God wat in elke omstandigheid moed gee” (2 Kor. 1:3). Die Here gebruik ons beproewinge en lyding om ons na Sy beeld te verander. Sy troos rus ons toe om ander te bemoedig wanneer ons vertel wat Hy vir ons gedurende ons nood gedoen het (v. 4).

Wanneer ons oor Christus se lyding nadink, word ons geïnspireer om te midde van ons eie pyn te volhard, omdat ons vertrou dat God ons ervaring gebruik om ons en ander te versterk om ons lyding geduldig te verdra (vv. 5-7). Ons kan, net soos Paulus, getroos wees in die wete dat die Here ons beproewinge ten goede laat meewerk tot Sy eer. Ons kan Sy bekers van bemoediging gebruik om gerusstellende hoop aan verwondes te bied.