Ek is per e-pos uitgenooi om by ’n groep “gedrewe mense” aan te sluit. Ek het die woord gedrewe nageslaan. So ’n persoon is hoogs gemotiveer om sukses te behaal en sal hard werk om sy doelwitte te bereik.

Is dit goed om ’n gedrewe mens te wees? Daar ís ’n toets wat jy kan aanlê: “… doen alles tot eer van God” (1 Kor. 10:31). Ons doen baiekeer dinge om ons eie eer. Ná die vloed in Noag se tyd het ’n groep mense besluit om ’n toring te bou om vir hulle “’n naam” te maak (Gen. 11:4). Hulle wou beroemd wees en verhoed dat hulle oor die hele aarde verstrooi word. Omdat hulle nie tot eer van God gewerk het nie, was hul gedrewenheid misplaas.

In teenstelling hiermee het koning Salomo, toe hy die nuwe tempel en die ark waarin die verbond was gewy het, gesê: “Die tempel vir die Naam van die Here die God van Israel het ek gebou” (1 Kon. 8:20). “Mag Hy ons gewillig maak om altyd volgens sy wil te leef en ons te hou aan sy gebooie …” (v. 58).

Wanneer dit ons grootste begeerte is om God te verheerlik en volgens Sy wil te leef, raak ons gedrewe mense wat ons beywer om Jesus in die krag van die Gees lief te hê en te dien. Mag ons gebed ’n eggo wees van Salomo s’n: “Mag [ons] met volle oorgawe voor die Here ons God leef volgens sy voorskrifte en [ons] aan sy gebooie [hou]” (v. 61).