My pa het op ’n keer teenoor my erken: “Ek was baiekeer weg van die huis af toe jy grootgeword het.”

Ek kan dit nie onthou nie. Afgesien van sy heeltydse beroep, het hy party aande die kooroefening by die kerk waargeneem, en soms het hy vir ’n week of twee saam met ’n manskwartet op toer gegaan. Wat my betref was hy tydens die betekenisvolle en vele kleiner oomblikke van my lewe altyd daar.

Byvoorbeeld: toe ek agt jaar oud was, het ek ’n klein rolletjie in die skoolkonsert vertolk. Al die ma’s was daar, maar net een pa – myne! Hy het vir my en my susters op talle maniere laat verstaan dat ons vir hom belangrik is en dat hy ons liefhet. Toe ek sien hoe teer hy my ma tydens die laaste paar jaar van haar lewe versorg, het ek geleer presies hoe onvoorwaardelike liefde lyk. Pa is nie volmaak nie, maar hy was nog altyd die pa wat my ’n goeie blik op my hemelse Vader gebied het. En dit is presies wat ’n Christenpa behoort te doen.

Aardse vaders maak soms hul kinders seer of stel hulle teleur. Maar ons Vader wat in die hemel is, is “[b]armhartig en genadig … lankmoedig en vol liefde” (Ps. 103:8). Wanneer ’n pa wat die Here liefhet sy kinders reghelp, aanspoor, onderrig en in hulle behoeftes voorsien, bied hy hulle ’n blik op ons volmaakte Vader in die hemel.