My dogter het haar selfoon vir haar 11-maande oue seuntjie gegee om hom besig te hou. Minder as ’n minuut later het my telefoon gelui en het ek sy stemmetjie aan die ander kant gehoor. Ek sal die “gesprek” wat gevolg het nie gou vergeet nie. My kleinseun kan slegs ’n paar woorde sê, maar hy ken my stem en reageer daarop; daarom het ek met hom gesels en hom vertel hoe lief ek hom het.

Die vreugde wat my kleinseun se stem meegebring het, het my herinner aan God se diep begeerte om ’n verhouding met ons te hê. Reeds van Genesis af wys die Bybel ons hoe God ons aktief agtervolg. Nadat Adam en Eva aan God ongehoorsaam was en vir Hom probeer wegkruip het, het “die Here God na die mens geroep” (Gen. 3:9).

Deur Jesus agtervolg God steeds die mensdom. Omdat God ’n verhouding met ons wil sluit, het Hy Jesus na die wêreld gestuur om aan die kruis te sterf en so die straf vir ons sonde op Hom te neem. “Dit is hoe God Sy liefde bewys het … Hy het Sy Seun gestuur om ons sonde uit te wis asook die skade wat dit aan ons verhouding met God gedoen het” (1 Joh. 4:9-10 – vertaal uit The Message).

Dit is goed om te weet dat God ons liefhet en wil hê dat ons deur Jesus op Sy liefde sal antwoord. Selfs al weet ons nie presies wat om te sê nie, wil God steeds graag ons stem hoor!