Nancy kyk by haar vriend se venster uit en sug. Lentereëns en sonskyn het ’n fees van kleur, in ’n blombedding, teweeggebring.

“Ek wil dít hê,” sê sy hunkerend, “sonder die harde werk.”

Sommige kortpaaie is goed – selfs prakties. Andere kortwiek ons gees en verdoof ons lewens. Ons wil romanse hê sonder die probleme en ongerief van ’n verbintenis aan iemand wat so anders as onsself is. Ons wil “grootheid” hê sonder die risiko’s en mislukkings wat benodig word in die avontuur van die werklike lewe. Ons begeer om God te behaag, maar slegs wanneer dit ons pas.

Jesus het dit duidelik aan Sy volgelinge gemaak, dat daar geen kortpad is wat die moeilike keuse, van oorgawe aan Hom, kan ontwyk nie. Hy het ’n voornemende dissipel gewaarsku, “Iemand wat die hand aan die ploeg slaan en aanhou omkyk na wat agter is, is nie geskik vir die koninkryk van God nie” (Luk. 9:62). Om Christus te volg, vereis ’n radikale verandering van ons lojaliteit.

Wanneer ons ons in geloof na Jesus wend, begin die werk. Maar dit is dit werd, want Hy het gesê dat niemand wat opofferings maak “ter wille van My en ter wille van die evangelie … of hy kry nou in hierdie tyd honderd keer soveel … en in die bedeling wat kom, die ewige lewe” (Mark. 10:29-30). Om Christus te volg is moeilik, maar Hy het vir ons Sy Gees gegee en die beloning is ’n vreugdevolle lewe nou en vir ewig.