Gedurende ons gemeente se Kersvieringe het ek gesien hoedat die koorlede voor die gemeente byeenkom, terwyl die dirigent deur sy papiere op die blink swart staander geblaai het. Die instrumente het begin speel en toe het die koor die pragtige, bekende lied, “Kom, nou is dit die tyd om te aanbid” gesing. Ek het eintlik ’n ander Kerslied verwag, maar na ’n paar oomblikke se nadenke het ek besef hoe geskik die lied vir dié besondere geleentheid was. Ek het vroeër die week Lukas se verslag van Jesus se geboorte gelees en dit het my getref dat daar niks van al die moderne feesvieringe was nie – partytjies, geskenke en ryk maaltye nie – maar net aanbidding. Toe die engel Jesus se geboorte aan die verskrikte skaapwagters aangekondig het, het engele dadelik met lofprysing begin. Hulle het uitgeroep en gesê: “Ere aan God in die hoogste hemel en vrede op aarde vir die mense in wie Hy ’n welbehae het” (Lukas 2:14). Die skaapwagters het gereageer deur dadelik na Betlehem te gaan waar hulle die nuutgebore Koning in ’n krip in ’n stal aangetref het. Hulle het na hulle skape teruggekeer terwyl hulle God “loof en prys” vir alles wat hulle beleef het (vs. 20). Toe hulle van aangesig tot aangesig met die Seun gekom het, het hulle die Vader geloof. Kom ons dink vandag aan ons reaksie op Jesus se koms na die wêreld. Is daar ruimte in jou hart om Hom te loof en prys?