Mediese navorsers soek onvermoeid om geneesmiddels vir kanker, Altsheimer en ander uitmergelende siektes te vind. Maar wat daarvan as jy eendag sou wakker word en die hoofberigte in die koerante lees: DIE DOOD VERNIETIG! Sou jy dit kon glo? Kan jy dit glo? Die Nuwe Testament verklaar uitdruklik dat vir die kind van die Here is die dood finaal vernietig – dit is magteloos en nie meer in staat om te doen wat dit eens gedoen het nie. “Wanneer hierdie verganklike liggaam met die onverganklike beklee is, en hierdie sterflike liggaam met die onsterflike, dan sal die woord wat geskrywe staan, vervul word: ‘Die dood is vernietig, die oorwinning is behaal’” (1 Kor. 15:54). Dis wonderlike nuus vir elkeen wat dit sal aanvaar, net soos die nuus wat die engele aan die skaapwagters gegee het die nag toe Jesus gebore is. “Moenie bang wees nie, want kyk, ek bring vir julle ’n goeie tyding van groot blydskap wat vir die hele volk bestem is. Vandag is daar vir julle in die stad van Dawid die Verlosser gebore, Christus die Here” (Lukas 2:10,11). Die geboorte van Jesus is die begin van die einde vir die dood. “Die angel van die dood is die sonde, en die sonde kry sy krag uit die wet van God. Maar ons dank God dat Hy aan ons die oorwinning gee deur ons Here Jesus Christus” (1 Kor. 15:56,57). Dis waarom ons Kersfees vier!