Toe ons kinders jonk was, het ek en my vrou Martie, dit baie geniet om as familie by my ouers in Florida te gaan kuier. Dit was veral heerlik om uit die koue, winderige Michigan weg te kom en die warmte van Florida te geniet. Ek kon nie wag om op die strand te ontspan met ’n mooi boek nie. Maar my kinders het ander idees gehad. Hulle wou hê ek moes help om sandkastele te bou. Taamlik traag sou ek opstaan en gaan help, maar kort voor lank, was ek so geïnteresseerd in die projek dat ek nie kon wegkom nie. Ek het ure bestee om ’n pragtige kasteel te bou, sonder om daaraan te dink dat dit slegs ’n kwessie van tyd sou wees voordat die gety my harde werk sou vernietig. Ons begaan dikwels dieselfde fout wanneer ons baie tyd en krag daaraan bestee om allerhande “kastele” te bou en dan in ons prestasies roem. Dit mag aanvanklik vir ons goed lyk, maar op die oud end is dit waardeloos. Ons lees in Lukas 12 dat Jesus sy volgelinge uitdaag om hulle besittings te verkoop en aan die armes te gee. Hy sê: “Waar julle skat is, daar sal julle hart ook wees” (Luk. 12:34). Met ander woorde, die wyse waarop ons ons besittings hanteer, sê baie oor ons ewige perspektief. Daar is ’n lied wat dit mooi verwoord: “Net een lewe en dis gou verby. Net wat vir Jesus gedoen is, sal bly.” My vriend, wat het jy vandag gedoen wat ewigheidswaarde het?