Die Kwaker, John Woolman, ’n rondreisende prediker, het sy eie stryd gestry om slawerny in die kolonies van Amerika te beëindig. Woolman het met leiers van die slawe gekonfereer en gepraat oor die onreg wat gepleeg word wanneer ander mense as besittings aangehou word. Alhoewel Woolman slawerny nie heeltemal kon uitroei nie, het hy tog daarin geslaag om baie eienaars te oorreed om hulle slawe vry te laat. Sy sukses was te wyte aan sy indiwiduele en persoonlike oortuigingsvermoë. Die boekie Filemon, bevat ook so ’n persoonlike, een tot een pleitrede vir die vrylating van ’n slaaf. Onesimus het van sy eienaar, Filemon, wat ’n Christen was, weggevlug. Hy het egter deur Paulus se toedoen tot bekering gekom, en nou het Paulus hom na sy eienaar teruggestuur met hierdie woorde: “Miskien was hy ’n kort tydjie van jou af weg juis sodat jy hom vir altyd sou terugkry, nou nie langer net as ’n slaaf nie, maar meer as ’n slaaf: as ’n geliefde broer” (Filemon 15,16). Alhoewel ons nie verseker weet of Onesimus as slaaf vrygelaat is nie, is dit duidelik dat sy nuwe geloof in Jesus sy verhouding met sy Christeneienaar verander het. Hy was nou ook ’n broer in Christus. Paulus was besig om sy wêreld te verander, een hart op ’n keer. Deur die transformerende krag van die evangelie, kan mense en situasies verander word. Net soos Woolman en Paulus, laat ons ook streef om die wêreld te verander – een hart op ’n keer