Moeilike tye kan veroorsaak dat ons perspektief heeltemal omgeswaai word. Ek is onlangs aan hierdie feit herinner toe ek met iemand gepraat het wat ook hartseer is – ’n ander ouer wat, soos ek en Sue, ook ’n tienerjarige dogter onverwags aan die dood afgestaan het. Sy het my vertel dat sy haar dogter verskriklik mis en dat sy in ’n stadium aan God gesê het dat sy as ’t ware aan haar vingernaels hang. Toe het dit meteens vir haar gevoel asof die Here haar daaraan herinner dat sy hand van beskerming altyd daar is en dat Hy haar sou vashou – sy kon maar laat los, Hy sou haar vang. Dis beslis ’n beter perspektief, nie waar nie? Hierdie prentjie herinner ons daaraan dat as die probleme en moeilikhede kom, en dit vir ons moeilik voel om die geloof te behou, moet ons onthou dat dit nie van ons afhang nie. Dit is God se taak om ons met sy sterke hand te onderskraag. Ons lees in Psalm 37:23-24: “Die Here [ondersteun] die mens met wie se pad Hy tevrede is … As so iemand val, bly hy nie lê nie, want die Here help hom op.” En in Psalm 63:8 en 9 lees ons: “U is vir my ’n hulp, … ek … juig … oor die beskerming onder u vleuels … u hand ondersteun my.” In moeilike tye kan ons so behep raak met ons idee om “aan God vas te klou” dat ons sy belofte om ons te beskerm, vergeet. Dis nie ons vingernaels wat ons sal ondersteun nie, maar ons Here – met sy liefdevolle hand.