’n Goeie vriend het een aand tuis in sy studeerkamer gesit en werk, terwyl sy vierjarige dogtertjie daar by hom gespeel het. Hy het dringende werk gehad wat afgehandel moes word. Die kind het daar rondgeskarrel, goed heen en weer geskuif, laaie oopgetrek en ’n redelike lawaai gemaak. My vriend het al die ongerief geduldig verduur, totdat sy haar vinger in ’n laai vasgeslaan en luid geskreeu het. Gefrustreerd het hy reageer: “Dis nou genoeg!” Hy’t haar opgetel, uit die kamer geneem en die deur toegemaak. Later het haar ma haar in die kamer aangetref waar sy gesit en huil het. In ’n poging om haar te troos het haar mammie gevra: “Is die ou vinger nog baie seer?” “Nee,” het die kind geantwoord. “Nou waarom huil my kindjie dan?” “Omdat Pappa nie ‘siestog’ gesê het toe ek my vinger vasgeslaan het nie!” Soms is dit al wat ons nodig het, net dat iemand sal omgee en met deernis ’n trooswoord en ’n woord van bemoediging sal spreek. Ons verlang na iemand wat vir ons “siestog” sal sê en met ons simpatiseer in ons hartseer en beproewing. Gelukkig het ons so Iemand, ons Here Jesus Christus. Hy doen dit vir ons. Jesus het ons lief en verstaan ons hartseer. Hy het Homself vir ons gegee (Efesiërs 5:2). Nou moet ons ook “in liefde wandel” en Hom navolg.