Dr. Jack Mezirow, ’n emiritus professor aan die Columbia Teachers College, is van mening dat die essensiële element in volwasse lering is om gereeld jou eie persepsies en insigte krities te evalueer. Dr. Mezirow beweer dat volwassenes die beste leer as hulle met ’n disoriënterende dilemma gekonfronteer word, “iets wat jou help om die veronderstellings wat jy deur die jare gemaak het, krities te beskou” (Barbara Strauch, The New York Times). Dis die teenoorgestelde van om te sê: “Ek het my besluit geneem – moenie my met feite verwar nie.” Toe Jesus mense op die Sabbatdag genees het, het Hy die godsdienstige leiers diep geskok en hulle het hul bes probeer om Hom stil te maak (Joh. 5:16-18). Jesus sê toe vir hulle: “Julle ondersoek die Skrif, omdat julle dink dat julle die ewige lewe daarin kry. En dit is juis die Skrif wat oor My getuig. Tog wil julle nie na My toe kom sodat julle die lewe kan kry nie” (Joh. 5:39,40). Oswald Chambers het per geleentheid gesê: “God het die manier om feite aan die lig te bring, feite wat al die mens se leerstellings omverwerp, dié leerstellings wat verhinder dat God die siel kan bereik.” Ontstellende ondervindinge wat ons laat twyfel aan dit wat ons in verband met die Here glo, kan ook lei tot ’n dieper verhouding met Hom, dat ons Hom beter verstaan en meer volkome vertrou, indien ons bereid is om dit te oordink en na Hom te kom.