Die meeste van ons sal erken dat daar tye van voorspoed, maar ook tye van teëspoed in die lewe is. Wyse koning Salomo het dit maar te goed besef en nagedink oor die verskillende reaksies wat ons, as mense, daarop toon. In Prediker skryf hy: “Elke ding het sy vaste tyd, elke ding in hierdie wêreld het sy tyd … ’n tyd om te huil, ’n tyd om te lag, ’n tyd om te treur, ’n tyd om van blydskap te dans” (Pred. 3:1,4). Salomo se pa, koning Dawid, is “’n man na [God’s] hart” (1 Sam. 13:14; Handelinge 13:22) genoem. Nogtans illustreer Dawid se lewe hoe daar seisoene van voorspoed, maar ook van teëspoed in sy lewe was. Hy het gehuil oor Batseba se seun wat terminaal siek was (2 Sam. 12:22). Tog het hy ook liedere van lofprysing en danksegging geskrywe (Psalm 126:1-3). Toe sy opstandige seun, Absalom, dood is, het Dawid bitterlik getreur (2 Sam. 18:33) en toe die Ark na Jerusalem gebring is, het Dawid uit vreugde en dankbaarheid voor die Here gedans (2 Sam. 6:12-15). Ons doen onsself en ander mense ’n onreg aan as ons beweer dat die Christelike lewe altyd net rustig en vreedsaam, maanskyn en rose, is. In teenstelling daarmee beeld die Bybel die Christen se lewe as een van blydskap, maar ook van hartseer, uit. In watter seisoen is jy vandag? Óf dit ’n seisoen van vreugde óf een van hartseer is, enige seisoen behoort ons te motiveer om die Here te soek en te vertrou.