Baie mense sal die tyd in 2008 onthou toe die ergste finansiële krisis na die Groot Depressie van 1929, die wêreld getref het. In die daaropvolgende maande het baie mense hulle werk verloor, ander hulle huise en beleggings. Later die jaar het die BBC ’n onderhoud met Alan Greenspan, vorige hoof van die US Federal Reserve, gevoer en hy het aangedui dat die gemiddelde mens vas glo dat so iets nie weer sal gebeur nie. “Dit is die onvernietigbare geloof van die menslike wese dat wanneer hulle lang periodes van voorspoed beleef, hulle vas glo dat dit altyd so sal voortgaan.” Om vas te glo dat dinge soos altyd sal voortgaan, is nie net die siening van mense in die 21ste eeu nie. Petrus het reeds in die eerste eeu n.C geskryf dat mense gedink het alles sou net soos altyd voortgaan en dat Jesus nie sou terugkeer nie. “Ons vaders is al dood, en tog bly alles nog net soos dit was van die begin van die skepping af” (2 Petrus 3:4). Jesus het belowe dat Hy sou terugkeer, maar die mense het in ongehoorsaamheid voortgelewe, asof Hy nooit weer sou kom nie. Maar die uitstel van sy koms, is net genade van God, want Hy wil nie hê “dat iemand verlore gaan nie: Hy wil hê dat almal hulle moet bekeer” (2 Pet. 3:9). Paulus vermaan ons om “wêreldse begeerlikhede te laat vaar en met selfbeheersing, opregtheid en godsvrug … te lewe” (Titus 2:12), want Christus kom weer. Is jy gereed?