Terwyl ek op kweekskool was, het ek ’n jeugkamp vir seuns en dogters by die YMCA hanteer. Ek het elke dag begin deur ’n kort storie te vertel waarin ek probeer het om ’n aspek van die evangelie te illustreer. Om te illustreer wat dit beteken wanneer ons sê dat ’n Christen ’n nuwe skepsel in Christus moet word, het ek ’n storie vertel van ’n eland wat graag ’n perd wou word. Die eland het ’n trop wilde perde gesien en gedink hulle is baie elegant en hy wou soos hulle wees. Toe het hy begin om homself te leer om soos ’n perd op te tree. Tog is hy nooit deur die perde as perd aanvaar nie … want … hy was ’n eland! Hoe kan ’n eland ’n perd word? Daar’s net een manier. Hy moet as ’n perd gebore word. Toe het ek verduidelik hoedat ons weergebore kan word deur in Jesus te glo. Een somer het ek ’n personeellid, Henry, op my staf gehad. Hy was geweldig teen die evangelie gekant. Ek kon hom net liefhê en vir hom bid. Toe hy die einde van die somer weg is, was hy steeds ongelowig. Dit was meer as 50 jaar gelede. ’n Paar jaar gelede het ek ’n brief van Henry ontvang. Die eerste sin het so gelui: “Ek skryf net om te sê dat ek weergebore is en dat ek nou ’n perd is.” Dit het opnuut bevestig dat ons moet aanhou bid, die saad saai (Markus 4:26) en op God vertrou. Eendag sal die vrug daar wees.