Toe ek en my vrou verloof geraak het, het haar pa aan ons ’n baie spesiale trougeskenk gegee. Aangesien hy ’n oorlosiemaker en juwelier was, het hy ons trouringe gemaak. Om my troupand te maak, het Jim brokstukke van ander ringe wat hy moes verklein, gebruik. Daardie stukkies goud was skynbaar waardeloos, maar in die hande van ’n meester vakman is iets kosbaars daaruit voortgebring. Die ring is tot vandag toe nog vir my kosbaar. Dis verbasend wat ’n meester vakman kan doen met iets wat vir ander waardeloos en onbruikbaar lyk. Dis presies hoe God in ons lewens werk. Hy is die grootste Meester Vakman en Hy neem die waardelose brokkies van ons lewens en herskep dit in iets kosbaars. Hy gee weer betekenis aan ons lewens. Jeremia het dit beskryf toe hy God as ’n pottebakker beskryf het. “Maar die ding wat hy aan die maak was uit die klei, het misluk, en hy het toe iets anders gemaak, soos hy dit wou hê” (Jeremia 18:4). Maak nie saak watse gemors ons van ons lewens gemaak het nie, die Here kan ons verander en nuut maak, sodat ons vir Hom welgevallig is. Namate ons ons sonde bely en ons in gehoorsaamheid aan sy Woord onderwerp, laat ons die Meester Vakman toe om sy verlossende werk in ons lewens te doen (2 Tim. 2:21). Dis die enigste manier waarop die gebroke stukke in ons weer heelgemaak en herstel kan word. Net die Meester Vakman kan dit doen.