’n Vriend van my het aan my 20 foto’s van pragtige kerke in verskillende wêrelddele gestuur. Hierdie kerke was ver van mekaar verwyder, vanaf Alaska tot Indië en elkeen was argitektonies uniek. Die pragtigste argitektoniese plek van aanbidding in Jeremia se tyd, was die tempel wat koning Josia herstel en weer in gebruik geneem het (2 Kron. 34-35). Die volk was so ingenome met die gebou (Jeremia 7:4) en het in hulle dwaasheid gedink dat omdat hulle die tempel gehad het, sou God hulle teen hulle vyande beskerm. Maar in plaas daarvan het Jeremia hulle op hulle sondes gewys (Jer. 7:3,7-10). God is nie beïndruk met mooi geboue wat in sy Naam opgerig is nie, as daar nie opregtheid is in die harte van diegene wat daar aanbid nie. Hy stel nie belang in ’n uiterlike, wettiese godsdiens wat nie met innerlike heiligheid gepaard gaan nie. Dit is verkeerd om te dink dat God mense beskerm net omdat hulle sekere godsdienstige handelinge uitvoer. Net omdat ons die Bybel lees, bid, kerk toe gaan en goeie dade doen, beteken nie dat dit God onder ’n verpligting plaas om iets vir ons te doen nie. Ons kan God nie manipuleer nie. Die doel waarom ons al hierdie uiterlike handelinge doen, is omdat ons ’n verhouding met God het en verlang om die verhouding uit te bou sodat ons anders as die wêreld kan lewe en God kan verheerlik. –